Hoe om data saam met jou te vat

Wil jy persoonlike data na jou rekenaar toe aflaai of dit na 'n ander verskaffer toe oordra? Albei is moontlik met Google Takeout, sê Stephan Micklitz en Greg Fair van Google

Mnr. Micklitz, mnr. Fair, julle is verantwoordelik vir Google Takeout. Presies waarvoor is dit?

Stephan Micklitz, direkteur van ingenieurswese in Google se privaatheid-en-sekuriteitspan: Google Takeout maak dit vir jou moontlik om byvoorbeeld foto's, kontakte, e-posse, kalenderinskrywings of musieklêers wat op Google Drive geberg is na jou rekenaar toe af te laai of om hulle na 'n ander verskaffer toe oor te dra.

Greg Fair, produkbestuurder van Google Takeout: Ek en my vrou het twee kinders en soos die meeste ouers het ons baie foto's van hulle – 600 gigagreep se foto's om presies te wees. Toe ons hardeskyf wat al hierdie foto's bevat het, omgeval het, was ek baie bly dat ek hulle almal ook in Google Foto's gestoor het. Ek kon Google Takeout toe gebruik om eenvoudig die foto's na 'n nuwe hardeskyf toe af te laai.

Greg Fair
Slimfoon

Greg Fair, produkbestuurder by Google, is verantwoordelik vir Google Takeout, wat dit nie net vir gebruikers moontlik maak om hul data by Google af te laai nie, maar ook om dit na ander verskaffers toe oor te dra.

Hoe gebruik mense Takeout?

Fair: Meestal om al die data te rugsteun wat hulle op Google Drive berg.

Micklitz: Wat ietwat irrasioneel is, want die data is in werklikheid veel veiliger op Google Drive as wat dit op die meeste van ons tuisbergingtoestelle is.

Fair: By die huis kan die kat aan die hardeskyf kou, of die kinders kan dit breek, of daar kan 'n brand wees. By Google word elke lêer verskeie kere op verskillende bedieners geberg. Dit kan nie veiliger wees nie.

En tog rugsteun jy ook jou data op 'n hardeskyf, mnr. Fair!

Fair: Dis omdat my vrou prentredigeringprogramme gebruik waar dit net nie prakties is om die prente in die wolk te hê nie.

"By Google word elke lêer verskeie kere op verskillende bedieners geberg. Dit kan nie veiliger wees nie."

Greg Fair

Ek sien.

Micklitz: Ek gebruik egter byvoorbeeld nie sulke programme nie, maar stoor tog rugsteunkopieë van al my foto's op 'n hardeskyf. Dis my data en daarom wil ek 'n fisiese kopie hê.

Wat is die rede vir jou "irrasionele" gedrag?

Micklitz: Ons het 'n baie persoonlike en emosionele verbintenis tot foto's. Hulle is aan so baie herinneringe gekoppel. As 'n gebruiker wil ek nie in die posisie wees waar ek op 'n enkele maatskappy staatmaak om my foto's veilig te hou nie – selfs al is dit 'n maatskappy waarvoor ek werk. Dis hoekom draagbaarheiddienste soos Google Takeout so belangrik is, want hulle maak dit vir ons gebruikers moontlik om hul data enige tyd in die hande te kry – selfs al is dit in die wolk.

Hoe lank is draagbaarheid al 'n belangrike onderwerp vir Google?

Fair: Meer as 'n dekade lank. Ons het begin deur individuele datadraagbaarheiddienste te ontwikkel. Toe, in 2011, het Google 'n gesentraliseerde oplossing – Takeout – bekendgestel. Sedertdien het ons al hoe meer Google-dienste geïntegreer en vandag ondersteun Takeout meer as 40 van hulle.

Terwyl baie gebruikers hul data na hul rekenaar toe aflaai, dra hulle dit selde na ander dienste toe oor. Hoekom bestaan hierdie wanbalans?

Fair: Gebruikers kan vandag data van Google af na Dropbox, Box of Microsoft Office 365 toe oordra – en andersom natuurlik. Baie van ons mededingers bied nog nie hierdie moontlikheid nie. Om dit te probeer verander, het ons in 2017 die Dataoordragprojek begin en die projek in Julie 2018 amptelik aangekondig. Dis 'n oopbronprojek wat gratis kode vir draagbaarheidfunksies aan maatskappye verskaf wat probleemvrye dataoordrag van een diens na 'n ander moontlik maak.

Micklitz: Veronderstel 'n aanvangsonderneming ontwikkel 'n fantastiese nuwe diens. Dit sal vir 'n klein maatskappy te duur wees om hul eie draagbaarheidoplossing te skep. Pleks daarvan kan hulle na die Dataoordragprojek toe gaan en die ooreenkomstige kodes na hul eie sagteware toe oordra.

Stephan Micklitz (regs), direkteur van ingenieurswese, is verantwoordelik vir globale privaatheid en sekuriteit by Google. Hy het rekenaarwetenskap aan die Tegniese Universiteit van München gestudeer en werk sedert laat 2007 in Google se München-kantoor.

Maar hoe is dit in jul belang as ek na 'n ander verskaffer toe oorskakel?

Fair: Ons wil hê jy moet Google-dienste gebruik omdat hulle die beste is, nie omdat jy dink dat jy nie jou data elders kan gebruik nie.

Die Algemene Databeskermingsregulasie, wat in Mei 2018 van krag geword het, bevat bepalings oor datadraagbaarheid. Moes julle jul data-aflaainutsding pasmaak om aan hierdie spesifikasies te voldoen?

Fair: Toe ons die regulasie in 2016 vir die eerste keer gelees het, het ons besef dat ons reeds taamlik goed gevaar het met draagbaarheid. Selfs toe het ons al 'n ruk lank intensief aan die onderwerp gewerk.

Micklitz: Ons dink dis goed dat hierdie onderwerp uiteindelik die aandag kry wat dit verdien. Draagbaarheid is op die oomblik steeds 'n nisterrein waarin nie baie gebruikers belangstel nie. Ons meen egter dat dit binne 'n paar jaar sal verander.

"My kinders moet foto's van hul kinderjare hê net soos ek het."

Stephan Micklitz

Hoekom?

Micklitz: Mense begin nou maar eers hul data in die wolk berg. Maar kom ons sê 'n maatskappy raak bankrot en jou data is op daardie maatskappy se bedieners geberg. Jy sal wil weet dat jy hierdie data in die hande kan kry. Dit gaan ook oor die onderwerp van dataduursaamheid. My kinders moet foto's van hul kinderjare hê net soos ek na my ouers se vergeelde foto's kan kyk.

Wil julle hê dat digitale foto's so duursaam soos analoë foto's moet wees?

Micklitz: Ja. Dit is ook 'n aspek van databeskerming in die wyer sin – dat ek oor 50 jaar steeds die data sal kan gebruik wat ek vandag berg.

Foto's: Conny Mirbach

Kubersekuriteitverbeteringe

Vind uit hoe ons meer mense aanlyn veilig hou as enigiemand anders in die wêreld.

Kom meer te wete