Inligting en inhoud
wat jy kan vertrou.

By Google streef ons daarna om die lewering van inligting te balanseer met die beskerming van gebruikers en die samelewing. Ons neem hierdie verantwoordelikheid ernstig op. Ons doel is om toegang tot betroubare inligting en inhoud te gee deur gebruikers teen skade te beskerm, betroubare inligting te lewer, en met deskundiges en organisasies saam te werk om ’n veiliger internet te skep.

Beskerm jou teen skade.

Ons hou jou en die hele samelewing veilig met gevorderde beskerming wat nie net skadelike en onwettige inhoud verhinder nie, maar dit ook bespeur en daarop reageer.

Voorkom

Voorkom misbruik

Ons gebruik AI-gesteunde beskerming om mense veilig te hou teen beledigende inhoud. Gmail blokkeer elke minuut outomaties byna 10 miljoen strooipos-e-posse uit inkassies, en Search het nutsgoed om outovoltooi te verhinder om potensieel skadelike navrae voor te stel. Outomatiese bespeuring help YouTube om skadelike inhoud doeltreffend en op groot skaal te verwyder – in die tweede kwartaal van 2023 is 93% van beleidskendende video’s wat van YouTube af verwyder is aanvanklik outomaties bespeur. Ons implementeer ook veiligheidsmeganismes in ons generatiewe-AI-nutsgoed om die risiko te beperk dat hulle gebruik sal word om skadelike inhoud te skep.

Verder word al ons produkte beheer deur ’n stel beleide wat omskryf wat aanvaarbare en onaanvaarbare inhoud en optrede is. Ons beleide word deurlopend verskerp en opgedateer om aan ontluikende risiko’s aandag te gee. Wat ons werk in AI betref, maak ons ook op ons AI-beginsels staat om produkontwikkeling te rig en ons te help om elke AI-toepassing te toets en te evalueer voordat hulle bekendgestel word.

Bespeur

Bespeur skadelike inhoud

Namate die taktiek van kwaadwillige persone ontwikkel, moet ons selfs harder werk om skadelike inhoud te bespeur wat op ons produkte beland. AI help ons om die bespeuring van misbruik op ons platforms uit te brei. AI-aangedrewe klassifiseerders help om potensieel skadelike inhoud vinnig te vlag vir verwydering of eskalasie na ’n mens wat kontrolering uitvoer. In 2022 het geoutomatiseerde afdwinging ons gehelp om meer as 51,2 miljoen advertensies met haatspraak, geweld en skadelike gesondheidaansprake te bespeur en te blokkeer. Daarby beloof groot taalmodelle, ’n deurbraaktipe AI, om die tyd wat dit neem om skadelike materiaal te bespeur en te evalueer eksponensieel te verkort, veral vanaf nuwe en ontluikende risiko’s.

Ons werk ook met buiteorganisasies saam wat inhoud vlag wat hulle dink skadelik kan wees. Sowel Google as YouTube ontvang terugvoer vanaf honderde Prioriteitvlaggers, organisasies wêreldwyd met kundigheid van kultuur en tegniese inhoud wat inhoud vir kontrolering na ons eskaleer.

Reageer

Reageer toepaslik

Ons maak op sowel mense as AI-aangedrewe tegnologie staat om potensiële beleidskendings te evalueer en toepaslik te reageer op inhoud wat gevlag word. Wanneer ’n stuk inhoud ons beleide skenk, kan ons dit beperk, verwyder of demonetiseer, of op rekeningvlak optree om toekomstige misbruik te verminder.

In 2022 het Google Maps meer as 300 miljoen stukke vals inhoud, 115 miljoen beleidskendende resensies en 20 miljoen pogings om ’n vals Besigheidsprofiel te skep, geblokkeer of verwyder. In die tweede kwartaal van 2023 het YouTube meer as 14 miljoen kanale en 7 miljoen video’s weens die oortreding van ons gemeenskapsriglyne verwyder.

Om konteks en nuanse te beoordeel en terselfdertyd die gevaar van oorverwydering te verklein, maak ons op ongeveer 20 000 opgeleide nasieners staat om in ’n verskeidenheid van rolle te werk om in Google se verskillende produkte en dienste ons beleide toe te pas, inhoud te modereer, en gevlagde inhoud te evalueer.

As ’n skepper of publiseerder reken dat ons ’n verkeerde besluit geneem het, kan hulle teen ons besluite appelleer.

Lewer betroubare inligting.

Ons moedig vertroue in die inligting en inhoud op ons platforms aan deur betroubare inligting en nutsgoed wat die beste in hul soort is te lewer wat jou in beheer van die evaluering van inhoud plaas.

Hoe ons inligting organiseer

Intelligente algoritmes

Ons algoritmes, wat deurlopend opgedateer word, vorm die kern van alles wat ons doen – van produkte soos Google Maps tot resultate op Search. Hierdie algoritmes gebruik gevorderde groot taalmodelle en tekens soos sleutelwoorde of die varsheid van webwerwe en inhoud sodat jy die mees relevante, nuttigste resultate kan kry. YouTube lig byvoorbeeld hoëgehalte-inhoud van gesaghebbende bronne prominent in hul soekresultate, aanbevelings en inligtingpanele uit om mense te help om tydige, akkurate en nuttige nuus en inligting te kry.

Nutsgoed om jou te help om inhoud te beoordeel

Ons het ’n aantal kenmerke geskep om jou te help om die inhoud te verstaan en te evalueer wat ons algoritmes en generatiewe-AI-nutsgoed uitgelig het, wat sorg dat jy meer konteks het vir wat jy aanlyn sien.

Bestuur inhoud verantwoordelik op YouTube

YouTube is daartoe verbind om ’n verantwoordelike platform te ontwikkel waarop die kykers, skeppers en adverteerders wat ons gemeenskap vorm, kan staatmaak.
Kry meer inligting oor ons benadering.

Werk saam om ’n veiliger internet te skep.

Ons werk proaktief met deskundiges en organisasies saam, lig hulle in, en deel ons hulpbronne en tegnologie.

Deel kennis

Ruil kennis uit om jou veilig te hou

Ons werk met deskundiges van die burgerlike samelewing, akademiese wêreld en regerings saam om wêreldwye kwessies, soos verkeerde inligting, advertensieveiligheid, verkiesingintegriteit, AI in inhoudkontrolering en die bestryding van aanlyn kinderuitbuiting, aan te pak. Ons publiseer ook navorsingbevindinge en stel datastelle aan akademici beskikbaar om vordering op hierdie terrein aan te help.

By YouTube raadpleeg ons gereeld ons onafhanklike raadgewende komitee vir jeug en gesinne oor produk- en beleidopdaterings, insluitend ons Jeugbeginsels, asook ’n reeks produkopdaterings wat op die geestesgesondheid en welstand van tieners ingestel is.

Deel tekens

Werk met deskundiges saam om onwettige inhoud te bestry

Ons werk ook met vennote saam om duidelike tekens van beledigende inhoud te ontbloot en te deel om dit uit die groter stelsel te kan verwyder. Ons deel elke jaar miljoene CSAM-hutse met die VSA se Nasionale Sentrum vir Vermiste en Uitgebuite Kinders. Ons neem ook deel aan Project Lantern, ’n program wat dit vir tegnologiemaatskappye moontlik maak om tekens op ’n veilige en verantwoordelike manier te deel. Daarby was YouTube ’n medestigter van die Internasionale Internetforum teen Terrorisme (GIFCT), wat die tegnologiebedryf, regerings, die burgerlike samelewing en akademiese wêreld verenig om aanlyn terreur- en gewelddadige ekstrimistiese aktiwiteit teë te werk.

Deel hulpbronne

Ondersteun organisasies wat op veiligheid ingestel is

Ons ondersteun organisasies wêreldwyd wat op aanlyn veiligheid en mediageletterdheid ingestel is deur kragtige programme wat opleiding en materiale aanbied, soos Be Internet Awesome, YouTube se Hit Pause en die Google News Lab. Daarby het Google en YouTube ’n skenking van $13,2 miljoen aan die Internasionale Feitekontrolenetwerk (IFCN) aangekondig om hul netwerk van 135 feitekontroleorganisasies te ondersteun. Ons samewerkings het saam meer as 550 000 joernaliste met digitaleverifikasievaardighede toegerus, en ons het nog 2,6 miljoen aanlyn opgelei.

Deel veiligheid-API’s aktief

Ons deel nutsgoed wat ander organisasies help om hul platforms en gebruikers teen skadelike inhoud te beskerm.

GSEC DUBLIN

Pak inhoudverantwoordelikheid aan in Dublin

Ons Google Veiligheidsontwerpsentrum vir inhoudverantwoordelikheid in Dublin is ’n streeksentrum vir Google-kundiges wat daaraan werk om die verspreiding van onwettige en skadelike inhoud vas te vat, en ’n plek waar ons hierdie werk met beleidbepalers, navorsers en reguleerders kan deel. Ons netwerk Google Veiligheidsontwerpsentrums gee ons spanne die ruimte, inspirasie en ondersteuning om die volgende generasie oplossings te ontwikkel om te help om aanlyn veiligheid te verbeter.

’n Nuttige, veiliger internetervaring — doelbewus.

Die impak van ons werk om betroubare inligting en inhoud te verskaf, was nog nooit van groter belang nie. Om saam met die uitdagings van inhoudkontrolering te ontwikkel, sal ons aanhou om te investeer in die ontwikkeling en verbetering van beleide, produkte en prosesse wat vir jou gemoersrus gee en ’n veiliger aanlyn ervaring vir almal skep.

Verken hoe Google help
om almal aanlyn veilig te hou.