Om te verstaan hoe mense reageer op wat julle bou.

Gebruikerervaringnavorsers bestudeer wat mense se interaksie met produkte is. Arne de Booij spesialiseer in gebruikerervaring en aanlyn privaatheid. Stephan Micklitz, direkteur van ingenieurswese in privaatheid en sekuriteit, spits hom toe op die bou van privaatheid- en sekuriteitnutsgoed.

Arne de Booij, as 'n gebruikerervaringnavorser by Google, ontleed jy gebruikers se interaksie met privaatheid- en sekuriteitnutsgoed. Wat het jy geleer?

Arne de Booij, Google UX-navorsingsbestuurder: Dit kan dalk vanselfsprekend klink, maar mense wil veilig en geborge aanlyn voel. Hulle wil hê hul data moet privaat gehou word. In die laaste jare het die internet in grootte en kompleksiteit gegroei – mense het bevraagteken presies hoe veilig hulle aanlyn is en of hul privaatheid voldoende beskerm word. Dit is redelike vrae om te vra, gegewe hoe baie ons almal deesdae die internet gebruik, én die stories wat ons almal oor die uitlek van data, ensomeer lees.

In gesprek: Arne de Booij (links), UX-navorser, en Stephan Micklitz, sagtewareingenieur

En hoe tree mense regtig aanlyn op wanneer dit kom by privaatheid en sekuriteit?

De Booij: Ons het die afgelope paar jaar studies gedoen van mense in veelvuldige lande reg oor die wêreld, en volgens almal van hulle is privaatheid regtig belangrik. Histories is die werklikheid dat mense nie regtig veel tyd bestee om inligting oor privaatheid te lees nie of om hul privaatheidinstellings te verstel nie. Ander studies wys dat mense skaars huiwer om hul kontakbesonderhede op onbekende webwerwe in te voer – om byvoorbeeld aan 'n kompetisie deel te neem. Dit is dus maatskappye soos Google se plig om seker te maak dat ons dit baie duidelik stel hoe ons data gebruik én dat ons maklik bruikbare kontroles verskaf vir gebruikers om hul aanlyn ervaring te bestuur op maniere wat vir hulle werk.

"Dit is ons werk om dit aan mense te verduidelik op 'n manier wat hulle kan verstaan."

Arne de Booij

Stephan Micklitz, as iemand wat aan die hoof staan om dataprivaatheid en -sekuriteit te verseker, watter gevolgtrekkings maak jy hieruit?

Micklitz: Ons doel is eenvoudig om voort te gaan om dienste te ontwikkel wat gebruikers beheer oor hul eie data gee. Dataprivaatheid en -sekuriteit is dikwels onderwerpe wat mense nie regtig aandag aan gee totdat daar 'n probleem is nie – byvoorbeeld, hul rekening word gekraak, of hulle lees in die nuus van iets sleg wat gebeur het. Dit is belangrik dat mense in daardie oomblikke weet hoe om hul aanlyn aktiwiteit na te gaan en hul wagwoorde te verander, indien hulle moet.

De Booij: Die werklikheid is dat niemand in die oggend opstaan en dink "ek beter my privaatheidinstellings in my Google-rekening nou dadelik nagaan nie”. Dis nie hoe dit werk nie. Dataprivaatheid en -sekuriteit is een van daardie dinge wat die meeste van ons uitstel tot later. Dit is die rede waarom ons die laaste jare begin het om mense aan te por om gereeld hul instellings na te gaan.

Nou hoe kry jy nou eintlik die insigte wat jou help om beter produkte te bou?

De Booij: Daar is 'n hele rits opsies. Aanlyn opnames is goed om te ontleed hoe mense 'n program soos Google-rekening navigeer. As jy menings en emosies bestudeer, is individuele onderhoude meer insiggewend. Ons doen opnames reg oor die wêreld om meer te wete te kom oor kulturele verskille – op straat, in marknavorsinglokale of selfs in gebruikers se huise. Laasgenoemde is veral interessant omdat mense daar toegang tot hul eie toestelle en data het, wat hul gebruikergedrag baie meer eg maak.

Arne de Booij (links) het 'n MA-graad in eksperimentele sielkunde aan die Universiteit van Groningen verwerf en 'n doktorsgraad in ingenieurswese aan Eindhoven Universiteit van Tegnologie. Hy sê: “UX-navorsers verseker dat gebruikers se behoeftes in ag geneem word.”

Het jy vir ons 'n voorbeeld?

De Booij: Van my kollegas het 'n vrou in Japan by haar huis besoek om met haar oor Google-rekening te gesels. Sy het nie die diens geken nie en toe sy dit oopmaak, het sy instinktief die monitor van ons af weggedraai. Sy was egter aangenaam verras om uit te vind hoe Google-rekening werk, hoe sy inligting kon verwyder, en kies hoe Google data gebruik.

Stephan Micklitz, het jy ook sulke onderhoude gedoen?

Micklitz: Ja! Byvoorbeeld, toe ons prototipes gemaak het van wat nou Google-rekening is, wou ons dit toets en sien hoe mense reageer. Die eerste deelnemer het die bladsy oopgemaak en vir 'n lang tyd na die skerm gestaar en niks gedoen nie. Daarna het die tweede persoon ingekom en presies dieselfde gereageer. Ek het gedink: “OK, dit verloop nie soos ek gedink het dit moes nie.” Dit was duidelik dat dié gebruikers nie verstaan het hoe Google Dashboard werk nie.

"UX-navorsing speel 'n belangrike rol in die ontwikkelingsproses."

Stephan Micklitz

Het julle die gebruikerkoppelvlak as gevolg hiervan hersien?

Micklitz: Verskeie kere! Ons het aangehou totdat die produk uiteindelik maklik toeganklik en verstaanbaar vir mense was.

UX-navorsing het julle gehelp om verbeterings aan die diens te maak?

Micklitz: Dit speel regtig 'n belangrike rol in die ontwikkelingsproses. Dit was byvoorbeeld die geval toe ons aan die Bestuurder vir Onaktiewe Rekeninge gewerk het, wat nou 'n deel van Google-rekening is. Gebruikers kan besluit wat met hul data moet gebeur as hulle vir 'n sekere tydperk onaktief was. Hierdie produk was heeltemal nuut; nie een van ons mededingers het ooit enigiets soortgelyk bekendgestel nie. Ons het dus 'n prototipe ontwikkel, dit getoets en 'n tweede prototipe gebou. Ons het deur verskeie siklusse van daardie proses gegaan voordat ons met 'n produk geëindig het wat baie goed deur ons gebruikers ontvang is.

Dit moet baie bevredigend wees wanneer jou navorsing tot konkrete veranderings lei.

De Booij: Dit is wat wonderlik is van hierdie werk. Ons maak seker dat gebruikers se behoeftes in ag geneem word.

Foto's: Conny Mirbach

Kubersekuriteitverbeteringe

Vind uit hoe ons meer mense aanlyn veilig hou as enigiemand anders in die wêreld.

Kom meer te wete